Koelte tuin dié naweek oop!

Jannie Boshoff en sy vrou Louise het nog altyd die idee gehad om in Potchefstroom af te tree en hulle betree nou ’n opwindende nuwe fase waarin hulle ’n verskil in mense se lewens wil maak.
Die Koelte Tuin het toevallig op hulle pad gekom. Louise het gereeld Potchefstroom en die perseel waar Garden Pavilion was besoek. Toe sy eendag weer daar instap, sien sy dat dit verlate is en uitgevind dat die perseel in die mark is. Dit het hulle uitstekend gepas, siende dat hulle op daardie stadium besig was om hulle grond te verkoop.
Sedert begin Januarie het hulle volstoom begin werk om Die Koelte Tuin ’n werklikheid te maak. Die atmosfeer wat hulle wil skep, is dat oud en jonk hier kan kom ontspan.
Die Koelte Tuin het iets vir elkeen. Roosmaryn, die restaurant, wat heerlike etes voorberei en waar jy rustig kan sit en ontspan terwyl die kinders in die veilige speelarea speel. ’n Taphuis, Charlie & Rose, wat boetiekbier, wyn en gin verkoop.
Vir die soettande is daar handgemaakte lekkernye soos oupa dit geken het by Candyman.
Easy Aquariums and Pets voorsien al troeteldierbenodighede, van visse en reptiele tot donsige hasies en voëls van verskillende vere.
Om gepamperlang te word is Berrylicious Hair and Beauty Studio vir die vroue daar.
Garden Pavilion se satelliet-winkel bied kleurvolle blomme en allerlei plantsoorte vir binne en buite die huis.
Verder is daar verskeie kleiner winkeltjies.
Hennie’s Herbal Health het vanaf die sakekern na Die Koelte Tuin verskuif en hy het raad vir elke skeet en kwaal.
Gifts and All bied geskenke vir mans, vroue en kinders, sowel as opvoedkundige speelgoed.
Valerie se vars gesnyde blomme sal enige vrou se dag opkikker.
Daar is ook ’n perd en donkie, Patrys en Toinkie. Rylesse en perdryterapie gaan binnekort aangebied word.
Die verhogie maak voorsiening vir binne- en buitekonserte.
Die naam Die Koelte Tuin is gekies omdat die sentrum nie net fisies skadu op ’n warm dag bied nie, maar ook koelte wat jou siel en gemoed verkwik. Die Boshoff-gesin nooi almal om Saterdag en Sondag Die Koelte Tuin te besoek vir hul amptelike opening.
Daar gaan heerlike aktiwiteite soos springkasteel, kindersport, musiek en dies meer wees.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top