Dwelmskok in lekkergoed: Maak seker jou kind weet

Jy lees hiervan, waarsku miskien jou kinders so in die verbygaan, min wetend dat jou eie kind bykans ondenkbaar maklik ‘n slagoffer kan word van gewetenlose dwelmsmouse – selfs daar waar jy dink jou kind die veiligste is.

Vir ‘n 12-jarige skooldogter van Parys het hierdie nagmerrie Maandag 10 September ‘n harde werklikheid geword. ‘n Seun het vir haar lekkergoed tydens pouse gegee. Lekkergoed wat hy by ‘n vrou gekry het wat buite die skoolterrein was.

Die dogter het die lekkergoed eers by die huis geëet, min wetend dat dit wat vir haar gegee is ‘n slaapmiddel en ander dwelmmiddels bevat het. Kort daarna moes sy per ambulans na die hospitaal geneem word waar sy steeds behandel word.

Die lekkergoed was in ‘n groenerige deurskynende pakkie waarop daar geen naam was nie en het byna die voorkoms gehad van ‘n fizzer wat aan meeste kinders bekend is. Dit was groen van kleur met wit aan die binnekant.

Maak seker jou kind besef die erns daarvan dat jy geen eet- of drinkgoed van iemand kan aanvaar waarvan jy nie die oorsprong ken nie. Dwelmsmouse ken beslis ook die goedgelowigheid van kinders en juis daarom word lekkergoed dikwels gebruik. Leer jou kind om bedag te wees hierop, selfs by die plekke waar jy dink jou kind sal veilig wees. Soms is dit juis sagte teikens vir gewetenlose misdadigers.

Vra  jou kind om sou daar enigiets aan hom/haar gegee word, hy/sy dit eers vir jou of ‘n onderwyser sal wys en sê waar dit gekry is. Moedig ook jou kind aan om dadelik ‘n onderwyser te vertel as daar iets vreemds op die skoolgronde opgemerk word.

Dit is altyd beter om jou kind eerder te wys op die gevare sodat hulle bedag sal wees daarop.

 

  AUTHOR
Marlizé Kruger
Blogger

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top