Twee nederlae in ’n ry belemmer NWU se semi-kanse

‘n Week gelede het sake nog goed vir die NWU Varsity Netbalspan gelyk na vier agtereenvolgende oorwinnings, maar die afgelope naweek se dubbele nederlae teen Maties (36-69) en die NMU Madibaz (47-49) het die prentjie wel effens versuur.
Die NWU is tans net buite rekening vir die halfeindstryde in die vyfde plek waar hulle met ‘n doelverskil van een agter die Madibaz lê na die Port Elizabeth-span se verrassende oorwinning teen Elsunet du Plessis se dames.
Dit was ‘n moeilike naweek vir die Potchefstroom in Stellenbosch waar hulle sonder hulle gerekende sterk Proteaspelers eers ‘n groot ontnugterende loesing teen die Maties moes beleef voordat hulle met twee doele teen die begeesterde Madibaz vasgeval het. Die Madibaz het wel ook die NWU se komende opponente, Kovsies, verrassend geklop.

Foto’s: ASEM Engage/Varsity Sports


Die NWU het wel ‘n sterk span en daar is nie voor die tyd gereken dat hulle so ver teen Maties sou verloor nie.
Volgens die NWU se hoofafrigter, Elsunet du Plessis het haar span nie teen Maties genoeg spanwerk gewys nie en noem ook dat hulle swak doelgemiddeld hulle ambisies op die dag gekelder het. “Ons het teen Maties nie die bal genoeg in die sirkel gekry om punte aan te teken nie en as ons het, het ons nie ons doele ingesit nie,” noem sy.
Du Plessis meen wel dat haar span teen die Madibaz, ondanks hulle nederlaag, beter vertoon het.
“Ons het ‘n beter tweede wedstryd die afgelope naweek teen die Madibaz gehad en ons kant beter gebring. Hulle was net die beter span op die dag,” vertel sy. Daar is baie scenarios wat nou vir die NWU voorlê, maar die belangrikste is dat hulle vir Kovsies oor twee naweke moet klop, en hoop dat Maties die oorhand teen die Madibaz kry om vir die halfeindrondes te kwalifiseer.
Die dilemma vir die NWU is dat hulle Proteaspelers vir die wedstryd teen Kovsies op Maandag, 24 September, steeds nie beskikbaar gaan wees nie en sodoende sal die span hard moet werk om hulle plek in die halfeindrondes te bespreek.

 

  AUTHOR
Wouter Pienaar
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top