Alles vol bloed na student in gesig met bottel gesteek is

“Ek was verbaas dat ek nog leef,” sê JP van der Westhuizen (22) wat verlede Donderdagoggend omstreeks 00:30 op die Bult drie keer met ’n bottel gesteek is.
Volgens dié derdejaar student in sielkunde het hy by ‘n bekende kuierplek op die Bult in ‘n ander man vasgeloop, waarna die man op hom begin skree het.


“Hy was baie aggressief en het my erg gevloek. Ek het om verskoning gevra, maar hy wou niks weet nie,” vertel hy.
Die man het Van der Westhuizen toe aangesê om buite toe te gaan sodat hulle dit kan uitsorteer.
Kort nadat hulle uitgestap het, het die man hom met ’n hokkiestok begin slaan.
“Soos wat ek gekeer het, het hy my op die arm geslaan. Die stok het op my arm gebreek en ek het geweet ek moet nou hier wegkom,” vertel hy.
Die man het hom ook oor die kop geslaan waarna hy in ’n grys BMW gespring en weggejaag het.
“Ek is terug na die kuierplek, maar toe ons later op pad was huis toe, het die ouens in die BMW teruggekom. Hulle het in die parkeerarea op die Bult gewag en ’n tweede onderonsie het ontstaan.”
“Daar was vier van hulle by die kar. Die man het my weer met die stok gedreig,” vertel hy.
Van der Westhuizen het die man geslaan, waarna ‘n ander man hom met ’n gebreekte bottel in die gesig en arm gesteek het.
“Ek het dit nie sien kom nie. Daar was dadelik ’n brandgevoel. Die bloed het oral oor my lyf gevloei. Alles was rooi,” het hy gesê.


Nadat hy op die sypaadjie gaan sit het, het die man hom weer probeer aanval, maar gelukkig het Van der Westhuizen se vriend tussenbeide getree.
Volgens Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder van Mooirivier Beskerming, moes ‘n beampte sy wapen op die aanvaller rig om te keer dat hy nie ‘n tweede slagoffer met die bottel steek nie. Kort daarna het die groep weer weggejaag.
Paramedici van ER24 het Van der Westhuizen na Mediclinic Potchefstroom geneem.
“My vriend het my hand vasgehou, ek het vir hom gesê ek gaan net my oë toemaak. Die volgende wat ek onthou was toe ek in die hospitaal wakker word. Ek het regtig gedink dit is die einde, ek het nog gebid voor ek my oë toegemaak het,” het hy gesê.
Van der Westhuizen het 24 steke aan sy arm en skouer en 26 aan sy gesig gekry.
Volgens hom moet die polisie begin optree op die Bult, omdat daar mense is wat by hulle voertuie staan en drink, waarna hulle dan gewoonlik moeilikheid binne of buite die kuierplekke maak.
“Ek weet van baie mense wat nie eers meer op die Bult wil wees nie, omdat hulle bang is vir die groepe wat daar staan,” sê hy.
Volgens Haefele is die polisie na die toneel ontbied waar ‘n gedeelte van die voertuig se registrasienommer aan hulle oorhandig is. Die Herald kon vasstel dat die voertuig in Ladismith in die Klein Karoo geregistreer is.
* Teen druktyd kon die polisie nie die voorval bevestig nie.

http://www.nbcarsales.co.za/

http://www.nbcarsales.co.za/

  AUTHOR
Dustin Wetdewich
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top