Oupa sterf in gru-botsing

“Ek weet hy is in ’n beter plek en nou is hy gesond.”
So sê Laurika Delport oor haar pa, Johan Delport (69), wat Sondagmiddag 9 September in ’n ongeluk op die hoek van Nelson Mandela-rylaan en Beyers Naudestraat dood is.


Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het drie voertuie omstreeks 14:00 by dié kruising gebots. Paramedici van ER24 het die voertuie in die middel van die pad aangetref.
Johan was nog in een van die voertuie vasgekeer. Volgens Meiring was daar niks wat paramedici vir hom kon doen nie en is hy op die toneel dood verklaar.
Drie ander mense is deur paramedici behandel. Een van dié drie is in ’n kritieke toestand na Potchefstroom Hospitaal geneem vir verdere behandeling.
Johan is ’n gebore Potchefstromer en het baie vriende gehad. In sy jonger dae het hy van visvang en kamp gehou, maar was in die laaste paar jaar van sy lewe baie siek en in pyn.
“Hoewel sy tyd saam met ons skielik kortgeknip is, troos ek my broers (Kallie en JD Delport) dat ons pa nou nie meer siek is nie,” sê Laurika. Johan laat sy drie kinders, een kleinkind en een agterkleinkind na.
“Al ons kinders lyk ook baie soos hy. As ons in die stad loop is daar gereeld iemand wat vir ons sê dat ons een van die Delports moet wees,” sê sy. Johan was ’n vriendelike mens en het sy lewe ten volle vir sy kinders en kleinkinders geleef.
* ‘n Troosdiens het Vrydag 14 September om 10:00 by die Potchefstroom Dienssentrum plaas gevind.

  AUTHOR
Marianke Saayman
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top