Spoke, diewe en digters – was jy al by vanjaar se Aardklop visuele kunste-uitstallings?

Tussen spoke, diewe en digters het vanjaar se Aardklop nasionale kunstefees hul gordyne oopgetrek en feesgangers en kunstenaars van oraloor in Suid-Afrika verwelkom.

Spoke, diewe en digters – vanjaar se kurator vir Aardklop se visuele kunste-program, dr. Johan Thom, sê dat die tema beïnvloed is deur skryfwerk vanuit die sestigerjare gemeng met die kleurryke geskiedenis van Suid-Afrika.

“Daar is ’n klomp goed in ons kas wat ons kan uithaal wat nie alles lelike geraamtes is nie. Op party van hierdie spoke kan ons trots wees,” sê hy.

Die feeskunstenaar vanjaar is Diane Victor wat Thom beskryf as die koningin van die donker.

“Sy hang al die vuil wasgoed uit en dan doen sy dit so mooi,” sê hy. Een van Victor se installasiewerke wat op pad na die ouditorium gesien kan word is ’n huldeblyk aan vroue wat vermoor is deur hul metgeselle. Die reeks kunswerke wat met glas, lig en rook moontlik gemaak is, kyk soos spoke uit die verlede na almal wat dit verbygaan.

Baie van die werke in die uitstallings is donker en morbied en mens kan selfs tot die gevolgtrekking kom dat dit gepaard gaan met die donkerheid en hartseer wat tans in Suid-Afrika en die res van die wêreld heers, maar tog wys van die kunswerke wel dat daar hoop is en dat die lewe aangaan.

“Mense moet onthou dit maak nie saak hoe donker goed is nie, daar blom iets. Daar is altyd ’n bietjie hoop en mense moet dit nooit vergeet nie,” sê Thom.

Hy voeg by dat hoewel baie van die kunswerke donker is, dit druk op die mens plaas om herinneringe te gebruik as ’n taktiek om ons toekoms te verander.

Baie van die kunswerke vanjaar fokus ook hoofsaaklik op vroue en Thom beskryf vanjaar as die jaar van die vrou aangesien verskeie gebeure die vrou se posisie in die samelewing beklemtoon en bevraagteken het.

“Baie mense wil praat daaroor. Hulle wil weet wat aangaan in die wêreld van die vrou en nie net uit die perspektief van die vrou nie, maar ook uit die perspektief van mans,” sê hy. “Ons is almal saam hierin en kunstenaars wil daaroor gesels.”

Vanjaar se visuele kunste-program het ook ’n musiek-element by wat volgens Thom deur sy eie liefde vir musiek sowel as sy goeie vriend en sanger Bacchus Nel geïnspireer is. Nel is blind en Thom het besluit om ’n kunsuitstalling moontlik te maak wat nie net visueel is nie, maar ook gehoor kan word. Daarom speel digkuns en musiek ’n groot rol in vanjaar se uitstalling.

“Ek het vanjaar baie belang gestel in digters, en nie net visuele digters nie, maar ook storievertellers. Daarom gaan Bacchus en ’n paar ander digters ’n program aanbied waarna mense kan kom luister,” sê hy. Die doel van hierdie program is vir die kunstenaars om beelde te skep wat in die feesgangers se geheue sal voortleef.

Thom beskryf hierdie jaar se visuele kunste-program as ’n huldeblyk aan komplekse Afrikaans en komplekse idees rondom die Afrikaner se identiteit.

“Ek wil hê die mense moet onthou die water is diep en wyd. Daarom is dit vir my belangrik dat ons ’n internasionale element in die fees het. Hier is kunstenaars van oral in die wêreld wat hier deelneem.”

Nog foto’s hier:

  AUTHOR
Marianke Saayman
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top