Rowers spuit oud-Volkie met pepersproei in gesig

Nicolas se gesig was erg geswel na die aanval. Foto: Verskaf
Nicolas se gesig was erg geswel na die aanval. Foto: Verskaf

’n Jong Potchefstromer en oud-Volkie het Donderdagaand 4 Oktober sy gees vir Aardklop vinnig verloor toe drie mans hom aangeval en pepersproei in sy oë gespuit het.

Nicolas Potgieter het die betrokke aand omstreeks 22:00 saam met ’n vriend van die Aardklop-terrein na een van hul vriende se huise in Dwarsstraat gestap. Net toe hulle oor die brug links in Dwarsstraat instap, het hulle ’n wit Hyundai i20 motor langs die pad sien stilhou.

“Drie mans het uitgeklim en in ons rigting begin stap. Ons het probeer wys dat ons reg is om te baklei indien hulle iets sou probeer, maar toe stap hulle net ’n draai om ons en klim weer in die motor en ry,” sê Nicolas.

Die twee vriende het verder gestap en naby die hoek van Dwars- en Borcherdstraat het Nicolas omgekyk en dieselfde motor weer in die straat sien parkeer. “Drie ouens klim toe uit en begin op ons afhardloop. Ek sê toe vir Morné om te hardloop en ek hardloop toe in ’n ander rigting,” sê hy.

Nicolas het in die hardloop oor ’n klip gestruikel en geval.

“Toe ek die grond tref, was al drie die mans bo-op my. Hulle het my geskop en geslaan en hul hande in my sakke probeer druk. Ek het gedink die een ou gaan ’n mes uitpluk, maar toe pluk hy ’n botteltjie pepersproei uit en spuit dit in my oë,” sê hy.

Nicolas Potgieter voel beter na die aanval, maar sy oë is steeds baie sensitief. Foto: Marianke Saayman

Nicolas Potgieter voel beter na die aanval, maar sy oë is steeds baie sensitief. Foto: Marianke Saayman

Hy sê die man het soveel pepersproei gespuit dat dit by sy gesig afgedrup het.

“Dit het oral gebrand, van my oë tot onder in my nek. Toe Morné sien wat gebeur, het hy omgedraai en my naam geskree. Dit was toe asof ek nuwe krag gekry het. Ek het nie eers meer die pepersproei gevoel nie en het net probeer om die mans van my af te kry,” sê hy.

Sy aanvallers het hom gelos en na die motor gevlug, maar Nicolas, wat gedink het hulle het sy foon beetgekry, het hulle blindelings agternagesit.

“In die hardloop het ek besef al my besittings is nog in my sakke en toe los ek hulle,” sê hy. Nicolas het na sy vriend se huis gehardloop.

“Ek het seker vir 80 meter omtrent blind gehardloop. Ek kon net lig sien,” sê hy.

Nicolas sê dat hy vir drie dae na die aanval steeds nie mooi kon sien nie en dat sy oë nou nog baie sensitief is.
’n Klag van aanranding is by die polisie gelê. Nicolas beskryf die aanvallers se motor as ’n wit Hyundai i20 met swart strepe onder aan die kante van die motor.

’n Motor met ’n soortgelyke beskrywing is dieselfde aand op beeldmateriaal van ’n sekuriteitskamera in Bailliepark vasgevang. Inwoners sê dat drie mans oor ’n muur in ’n erf gespring en toe weer in dié motor gevlug het.

http://www.nbcarsales.co.za/

 

  AUTHOR
Marianke Saayman
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top