Potchefstromer kon nie glo wat op sy dak woon nie

Die muskeljaatkat wat in die geut by Gerrie Benade se huis ingetrek het. Haar twee kleintjies kan nie op die foto gesien word nie. Foto: Gerrie Benade
Die muskeljaatkat wat in die geut by Gerrie Benade se huis ingetrek het. Haar twee kleintjies kan nie op die foto gesien word nie. Foto: Gerrie Benade

Toe Gerrie Benade Saterdagaand ’n geritsel op sy huis se dak hoor, het hy nie gedink hy sou ’n muskeljaatkat met twee van haar kleintjies in die geut ontdek nie.

Hy woon immers in Bizetlaan in Van der Hoffpark en het nie gedink hierdie wilde besoekertjies sou so diep in die stad inbeweeg nie.

“Ek het met ’n leer teen die dak opgeklim en my nuwe gaste in die geut gesien. Toe hulle my sien, het hulle nader gekom,” sê dié diereliefhebber.

Benade, ’n dosent aan die NWU se Potchefstroomkampus, sê dis nie die eerste keer dat hy hierdie besoekers in sy erf kry nie.

'n Muskeljaatkat. Foto: Elelur.com

‘n Muskeljaatkat. Foto: Elelur.com

Sowat ’n jaar gelede was daar ook ’n muskeljaatkat met kleintjies in sy erf, maar sy Jack Russel honde het ongelukkig die twee kleintjies doodgebyt.

“Ek het nie gedink hulle sou terugkom na dit nie, maar hier is hulle weer. Ek weet nie of dit dieselfde wyfie as ’n jaar gelede is nie,” sê hy.

Hy weet nie waar hulle deur die dag wegkruip nie, maar wanneer dit begin skemer word, hoor hy hulle in die geut. Sy buurman het ook al dié besoekertjies in een van die groot bome in Benade se erf gesien speel en hulle was ook al onder die houthuisie langs die huis.

“Hulle is baie nuuskierig. Hulle is soos huiskatte en vang muise, rotte en eet selfs katpille,” sê hy.

Dit blyk of Benade se erf ’n aantrekkingskrag vir wilde besoekers het. Nie net het hy ook al ’n blou-apie op sy dak gekry nie, maar het by twee verskillende geleenthede likkewane in sy erf gevang.

  AUTHOR
Marianke Saayman
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top