update


Oud-Gimmie verloor twee Potchefstroom-vriende in Viëtnam

Benjamin Jooste en Jason Luker was volgens Jason se ma soos 'battery and torch'.
Benjamin Jooste en Jason Luker was volgens Jason se ma soos 'battery and torch'.

“My hart en siel is gebreek om twee mense wat so na aan my was in ’n maand se tyd te verloor. Emosioneel is daar ’n leemte wat nie weer gevul sal kan word nie.”

Dit is die woorde van die gebroke oud-Gimmie, Jason Luker, wat Saterdag (3 November), op sy 26ste verjaarsdag, sy boesemvriend in ’n ongeluk in Viëtnam verloor het. Sowat ’n maand gelede het een van sy ander goeie vriende ook in Viëtnam gesterf.

Die 26-jarige Benjamin Jooste, ook ’n oud-leerling van Potchefstroom Gimnasium, was saam met Jason op ’n motorfiets op pad werk toe.

Benjamin en Jason het albei as Engelse onderwysers by ’n taalsentrum in Hanoi gewerk. Jason sê hy en Benjamin is al sedert 2007 vriende.

Benjamin Jooste (links) en Jason Luker is sedert 2007 beste vriende. Foto: Verskaf

Benjamin Jooste (links) en Jason Luker is sedert 2007 beste vriende. Foto: Verskaf

“Ons het mekaar goed verstaan en ons vriendskap het deur al die jare net gegroei,” sê hy.
Benjamin het na Viëtnam gegaan om saam met Jason dié nuwe avontuur aan te pak.

“Hy was altyd op vir ’n nuwe avontuur en om nuwe plekke te sien,” sê Jason, wat drie maande voor Benjamin in Viëtnam begin werk het.

Volgens Jason was Benjamin deel van hulle familie.

“Hy kon net instap by ons huis, hy het nooit laat weet as hy kom kuier nie. Mens sal by die huis kom en hy sal op die bank sit nadat hy in die yskas gekyk het vir iets om ’n broodjie te maak,” sê Jason.

Jason se ma, Elsa Siege, het op Facebook gesê Benjamin was soos ’n kind in hul huis.

“My liefste Benji, hier waar ek sit is my hart stukkend, jy was soos ’n kind in ons huis, my blommekind. Rus sag my liefste seuntjie,” het sy Saterdag op Facebook gesê.

Laat in September vanjaar is nog ’n Potchefstromer, Gerrit-Jan Wissing (32), ook in ’n motorfietsongeluk in Viëtnam oorlede. Hy het ook daar skool gegee en was ’n goeie vriend van Benjamin en Jason.
Jason het met sy aankoms in Viëtnam vir ’n tyd by Gerrit-Jan gewoon en beskryf hom as sy mentor.

Gerrit-Jan Wissing is ook in September in Viëtnam oorlede. Foto: Facebook

Gerrit-Jan Wissing is ook in September in Viëtnam oorlede. Foto: Facebook

“Hy was vol wysheid en kennis en een van die sagste mense wat ek bevoorreg was om te ken. Hy het elke dag geleef asof dit sy laaste was. Hy was baie positief van geaardheid en niks kon hom onderkry nie,” sê Jason.

In Oktober 2016 is Colin Wheeler, ook ’n oud-Gimmie, in Viëtnam aan orgaanversaking oorlede.

Lees ook:

Help familie om oud-Gimmie terug te bring van Viëtnam

VOL STORIE: Liggaam van oud-Gimmie terug in Suid-Afrika

http://www.nbcarsales.co.za/

http://www.nbcarsales.co.za/

  AUTHOR
Marianke Saayman
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top