Hoewe-eienaars word gevra om petisie te ondersteun en teken

Dalena Meyer skryf:
Mooibank-hoewes is suid van die Landboukollege en is een van drie besproeiingsgebiede waar kanale deur Waterwese aangelê is. Dit is uiters geskik vir intensiewe groenteboerdery.
Dit bied ‘n geleentheid vir ontwikkelende boere om te begin boer en boere met jare se ervaring wil graag ‘n bydrae daartoe lewer.
Aansoeke vir dorpstigting en petisies daarteen in dié area het egter sedert 2010 begin.
Tans is daar weer ‘n aansoek vir dorpstigting en die verandering van titel-aktes van die kleinhoewes onder besproeiing.
Die inwoners van Mooibank is eenparig daarteen gekant. Die titel-aktes is bekom met die hoofdoel om te boer. Die inwoners staan vas by landbou en wil ook ’n geleentheid aan opkomende boere bied.
Die groot hoeveelheid en verskeidenheid groente wat in die gebied geproduseer kan word, sal ‘n groot bydrae tot voedselvoorsiening in Potchefstroom lewer. Daar is baie behoeftiges wat goeie voeding dringend benodig.
Die ontwikkelaars is volgens ons almal opportuniste wat relatief goedkoop landbougrond aankoop en dan baie geld wil maak deur ‘n eenvoudige ontwikkelingsplan in te dien.
Dit is goeie landbougrond met 45 tot 55 persent klei, maar wat totaal ongeskik vir behuising is, veral vir laekoste behuising.
Die infrastruktuur in die gebied is ook nie geskik vir hoëdigtheid-behuising nie. Daar is onder meer nie genoeg elektrisiteitsvoorsiening nie.
Die gebied is baie ryk aan ondergrondse water wat besoedel sal word deur die hoëdigtheid-behuising.
Die gebied lewer ‘n groot bydrae tot werkskepping en indien die ontwikkeling voortgaan, sal baie besighede gesluit moet word en talle mense hul werk verloor. Daar is besighede wat werk aan tot 250 mense verskaf.
As gevolg van die voortdurende aansoeke het die gebied sedert 2010 baie agteruitgegaan.
Eiendomspryse het relatief drasties gedaal en inwoners huiwer om ontwikkeling aan infrastruktuur te doen.
Die aansoek raak Mooibank en omliggende hoewes en plase soos Harpington, Haaskraal, Kromdraai en die woonbuurtes van Suiddorp en Miederpark.
Ons versoek inwoners van die betrokke areas wat daarteen gekant is om op 8 en 9 November van 06:00 – 18:00 op die hoek van Kruisstraat en die Mooibankweg/afdraai, ’n petisie daarteen te kom teken.
* Vir meer inligting skakel Dalena of Arno Meyer by (018) 292 1907 of per e-pos by [email protected]

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top