Krieket loop deur nuwe Noordwes krieketbaas se are

Die nuwe HUB van Noordwes Krieket, HP Prinsloo.
Die nuwe HUB van Noordwes Krieket, HP Prinsloo.

’n Bekende gesig in plaaslike krieketkringe beklee nou die warm stoel as Noordwes Krieket se nuwe Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) en daar is hoop dat sy krieketkennis en finansiële agtergrond ‘n nuwe suksesvolle hoofstuk vir die unie sal begin.

HP Prinsloo is op 1 November amptelik aan die stuur van sake en neem die leisels by die voormalige HUB, Vincent Prior oor. Hierdie voormalige Noordwes-krieketkaptein glo juis dat ’n opskerping van finansiële stabiliteit en gefokusde gemeenskapsbetrokkendheid een van die groot raakpunte sal wees.

“Dit is belangrik om die persepsie in die gemeenskap rondom Noordwes Krieket in ‘n positiewer lig te stel. Die krieketgemeenskap moet Senwes Park as ‘n natuurlike plek sien om te besoek. Dit moet ‘n tuiste vir die gemeenskap wees,” noem hy.

Die nuwe HUB van Noordwes Krieket, HP Prinsloo.

Die nuwe HUB van Noordwes Krieket, HP Prinsloo.

Een van die sterk punte wat in Prinsloo se guns tel is dat hy ‘n krieketman in murg en been is en ook met sy finansiële agtergrond as rekenmeester die administratiewe aspekte van sy rol as HUB verstaan. Prinsloo is ‘n bekende figuur in Noordwes Krieketkringe met die dat hy as speler en tesourier onder andere by die unie betrokke was. Hy was ook die voorsitter by Potch Dorp Krieketklub voor sy aanstelling.

“Ek dink omrede ek deur die sisteme in Noordwes Krieket kom, verstaan ek hoekom dit ‘n spesiale unie is. Ek het destyds as tesourier saam met die voormalige HUB’s, Jacques Faul en Heinrich Strydom gewerk en daar is harde werk ingesit om die unie te kry waar dit vandag is. Daar is ‘n liefde en trots vir Noordwes Krieket by my.”

Een van sy hoofdoelwitte sal wees om seker te maak dat Noordwes Krieket goeie slaagsyfers op Krieket Suid-Afrika (KSA) se jaarlikse tellingkaarte sal behaal.

“Daar is verskillende aspekte waarna KSA kyk soos transformasie, krieketontwikkeling en finansies en ek sal graag wil hê dat ons finansies beter sal vertoon en meer stabiel is,” het hy genoem. Dit is juis belangrik aangesien dit die kanse vir Noordwes Krieket vergroot om as ‘n individuele provinsie deel te kan neem indien so ‘n sisteem teruggebring word.

Verder noem Prinsloo ook dat hy graag ‘n wenkultuur wil bou en seker maak dat beide die Noordwes Dragons provinsiale span sowel as NW se jeugspanne bekers wen en kan kompeteer.

“Dit is natuurlik ook belangrik om met die hub-sisteme eersterangse spelers op te lewer wat vir die Proteas sal kan uitdraf.

Ons moet daardie voersisteem vir Krieket Suid-Afrika wees.”

Daar lê nou harde werk voor vir Noordwes Krieket in die bedrywige krieketseisoen, maar met Prinsloo aan die stuur van sake is daar geen twyfel dat krieket as spel die groot wenner aan die einde van die dag sal wees nie.

  AUTHOR
Wouter Pienaar
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top