Curriebeker RugbyRaai

WP en Leeus dek die tafel hierdie naweek

Wouter Pienaar
Die top vier spanne vanjaar is die onoorwonne Leeus, WP en die Haaie, met die Bulle wat danksy ‘n paar goeie vertonings die afgelope twee weke, ook kop begin uitsteek.
Dit is nou ook maak of breek vir die kleiner unies in vanjaar se Curriebeker met die Pumas en Griekwas wat nog ‘n halwe kans staan om vir die halfeindrondes te kwalifiseer.
Die Pumas sal die geleentheid hê om die appelkar om te gooi wanneer hulle teen die Blou Bulle op Loftus te staan kom. Die manne van Nelspruit sal sterk moet leun op hulle ervare spelers soos Hennie Skorbinski, Ruwellyn Isbell en Stefan Ungerer om hulle deur te trek. Die Bulle sal wel ook nie kan slap lê nie en sal juis hulle plek op ‘n tuis halfeindstryd wil verbeter.
Die losskakel Manie Libbok en skrumskakel, Ivan van Zyl sal twee sleutelspelers vir die Bulle wees om hulle aanval aan te spoor. Die Bulle se voorspelerpak sal ook een van hulle sterkpunte wees en ons voorspellers soos Montana Spur en Top Sky Motors glo dat die Pretorianers die oorhand sal hê.
Die groot wedstryd van die naweek sal op Emirates Airline Park plaasvind waar twee onoorwonne grotes, die Goue Leeus en die Westelike Provinsie mekaar gaan aanvat. Die Leeus se jong span blink vanjaar uit en die WP sal hulle beste voetjie moet voortsit om die tuisspan te troef. Die Leeus se blink losskakel, Shaun Reynolds ervaar vanjaar ‘n puik seisoen en tesame met Sylvian Mahuza, Courtnall Skosan, Lionel Mapoe en Howard Mnisi sal die Leeus se agterlyn met mening kan presteer.
Die Streeptruie sal ook kan staatmaak op spoedvrate soos Dillyn Leyds, SP Marais en JJ Engelbrecht. Verwag maar hardlooprugby van die hoogste orde.
Interessant genoeg glo ons voorspellers ook dat die Griekwas die beleërde Cheetahs kan klop wanneer hulle in die laaste wedstryd van die naweek teen mekaar te staan kom. Die kanse is goed, aangesien die Griekwas genoeg momentum teen die Bulle opgebou het, terwyl die Cheetahs nog hard sluk aan hulle loesing teen die Leeus die afgelope naweek.

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top